Wie Is Waterberg Stereo 104.9 FM
Waterberg Stereo is ‘n gemeenskaps radiostasie wat streef om hoop en lewe vir ons luisteraars te bringWaterberg Stereo streef daarna om met goed geballanseerde inhoud weer hoop in ons gemeenskappe en huishoudings te bring. Dit is vir ons belangrik om nie net ons luisteraars in te lig en op hoogte te bring van wat in ons dorpe en stede, asook ons land en die wêreld aan die gang is nie, maar ook ‘n aangename luisteraarservaring te bring.
Alhoewel ons in baie deurmekaar tye in ons land en ook in die wêreld leef, is dit belangrik dat ons positief bly en ‘n positiewe impak maak op ons onmiddelike omgewing. Dit begin in ons gesinne en families en kring dan uit na ons werksplekke en skole tot dit oorspoel na ons dorpe en stede.
Baie dinge loop verkeerd in ons land en ons kan gaan sit en kla en vinger wys en in depressie verval of ons kan opstaan en ‘n verskil maak. Die keuse lê by elkeen van ons.
Ons uitgangspunt by Waterberg Stereo is dat ons nie die land by ons ouers geërf het nie, maar dat ons dit by ons kinders leen. Kom ons poog om dit beter terug te gee vir die volgende geslag as waarin ons dit ontvang het.
Ons hier by Waterberg Stereo het die besluit gemaak – Ons gaan ons beste gee. Ons doen ‘n beroep op elkeen van ons luisteraars en volgelinge – klim in saam met ons.
Hoe gaan ons ‘n verskil maak en waar begin ons?
Elkeen van ons sal moet begin in ons eie huishoudings. Ons sal ons waardes moet gaan uitspel as gesin, mekaar moet begin ondersteun en mekaar moet moed inpraat en positiewe doelwitte daarstel wat ons as gesinne begin nastreef en uitleef.
Ons gaan planne moet opstel en vat na ons skole en werksplekke waar ons onself gaan moet omring deur ‘n groep positiewe mense wat saam met ons ‘n verskil wil maak. Ons gaan moet besef dat almal nie gaan wil saamwerk nie en ons idees gaan afskiet, maar ons gaan moet deurdruk en ons nie daardeur laat onderkry of ons geesdrif laat demp deur negatiewe mense nie.
Ons gesinne, ons skole, ons werksplekke, ons gemeenskappe, ons dorpe, ons stede en ons land het my en jou nodig om op te staan om hierdie land weer op die wenpad te plaas. As ons dit nie gaan doen nie, wie gaan dit dan doen?
Verder is dit nodig dat ons weer die entrepreneur in ons wakker maak en begin om goedere en dienste te lewer en te bemark om vir onsself, ons gesinne en ons gemeenskappe geleenthede te skep. Ons moet begin aanleer om weer plaaslik te ondersteun en om die ekonomie in ons eie omgewing te stimuleer.
Waterberg Stereo stel homself beskikbaar as gemeenskaps radiostasie om te help om hierdie projekte en pogings van ons mense te help fasiliteer en onder mekaar se aandag te bring. Dit benodig dat daar goeie kommunikasie tussen ons en die gemeenskap is.
Dit is ook om hierdie onderlinge kommunikasie te bevorder en mekaar te help en te ondersteun in ons onderskeie projekte en besighede dat Waterberg Stereo groot kostes aangegaan het om ‘n “App” te ontwikkel wat dit vir elke liewe persoon moontlik maak om by ons in te skakel en betrokke te raak en dit vir elkeen moontlik maak om te kan bekostig dat sy/haar produk of besigheid deur ons almal raakgesien kan word soda tons dit kan ondersteun. Hierdie gee ook aan ons die platvorm on by al ons onderskeie gemeenskappe betrokke te raak en ‘n verskil te maak.

